Jy laat my dink aan fynbos en heuning
Ek voel jou rustigheid in my spiere se spanning
In die spasies tussen my kinderdae
En die masker wat ek deesdae dra
Skenk jy vir my ‘n kussing
Daars ‘n sagte plek in die holte van jou nek
Waar my trane versamel en verdamp
Jou woorde weef self-vertroue deur my vlegsel
Terwyl jou oë my leegheid blou inkleur en met vere voltooi
Jy neem die haat wat aan my ligaam klou
Saggies tussen jou vingers
En laat dit vry
Jou asem, koel teen my klam vel, verlam my
My vuiste ontvou teen jou bors en ondek jou hart se ritme
Uitgeput teen jou skouer
En opgekrul soos ‘n baba
Draai jy my in drome toe
En in die holte van jou hand
Lê daar ‘n klip